


Welkom by SA Vryskutskrywer - Boekrak
Karakters en dialoog oortuig
2010-02-01
Stoffel Cilliers
Troos vir die gebrokenes deur Bettina Wyngaard
Dié aktuele debuutroman oor ’n
bruin gemeenskap in Grabouw is veel meer
as ’n “bruin boek”. Soos die titel
aandui, is dit die verhaal van ’n groep mense wat bitter swaarkry en wat eintlik
enige plek ter wêreld bymekaargegooi kon gewees het.
Wyngaard het self op Grabouw grootgeword – daarom beeld sy haar hoofkarakter, Frieda Daniels, “voorvrou” of toesighouer van die pakkers in die appelfabriek, oortuigend uit.
Frieda bewoon ’n beknopte tweeslaapkamerhuisie saam met haar man, John, drie volwasse kinders en haar dogter Lilly se buite-egtelike seuntjie.
Naweke rand haar dronk man Frieda dikwels wreed aan, en verkrag hy haar selfs.
Sy besef hul samelewing “het sterk vroue nodig, want die Vader weet, die mans is vrot verby” (p. 36).
In die roman veg verskeie vroue verbete om hul menswaardigheid, probeer hulle keer dat hulle platgetrap word net omdat hulle vroue is.
’n Kleurryke karakter is die 75-jarige antie Mina wat Frieda grootgemaak het.
Dié matriarg laat haar deur niemand onderkry nie. Sy is “?’n tawwe ou vrou wat danig trots is daarop dat sy haar opleiding in die College of Knowledge, soos sy die lewe noem, gekry het” (p. 124).
Van die sjarmante oom Charles, wat tydig en ontydig by haar vlerksleep, se attensies wil antie Mina aanvanklik niks weet nie. Tog ontwikkel ’n fyn verhouding tussen die twee bejaardes.
Die skrywer gebruik verskeie karakters om lewenswaarhede tuis te bring.
Een is Frieda se dogter Lilly, wat verwerp is toe sy swanger geraak het. Haar uitgesproke suster, die bibliotekaresse Lucy, leer haar dat sy wel keuses het. Sy kan veg en rigting aan haar afgeskeepte bestaan gee.
Eers toe die skugter Lilly gemeenskapsdiens doen, kry haar lewe betekenis.
Aanvanklik lyk die plakkerskinders vir Lilly “soos hondjies wat wag vir die volgende skop om te kom, want dit is al waaraan hulle gewoond is” (p. 109).
Sulke gebrokenes laat Lilly uit haar dop kruip. Sy beywer haar geesdriftig vir ’n skuiling vir haweloses.
’n Besondere kenmerk van die roman is die lewensgetroue dialoog. Ook die karakters is oortuigend uitgebeeld.
Uiteindelik verslap die spanningslyn as die skrywer minder uitbeeld en meer vertel wat gebeur.
Daar is veel in die roman oor geloof in God as toerusting in moeilike tye, oor ideale vir die gesinslewe en veral oor ware vergifnis. Dit is ’n lesenswaardige boek oor hoop in krisistye.
Die gebalanseerde lewensuitkyk en oortuigende geestelike inslag dui duidelik op die skrywer se begeerte om met haar pennevrug self gemeenskapsdiens te lewer. Sy slaag ongetwyfeld in haar doel.
Cilliers is ’n vryskutresensent.
Bron: Beeld



