


Welkom by SA Vryskutskrywer - Boekrak
Verbeelding ’n praktiese ding – ook in romanse - Helene de Kock
Saamgestel deur Riëtte Grobler
Die skrywer Helene de Kock gryp al jare die verbeelding van lesers aan met karakters se inspirerende liefdes- en lewensavonture. Hier vertel sy hóé.
Enige skryfwerk is harde werk en
inspirasie is myns insiens ’n mite.
’n Skrywer moet meestal self daardie inspirasie opwek deur baie wyd te lees en bloot te begin skryf.
Dán ontkiem daar iets soos besieling en opwinding.
Wat my die meeste interesseer wat liefdesverhale betref, is die krag van konteks?– die invloed wat die omgewing op die verliefde paar het.
Want mense raak binne ’n sekere ruimte of agtergrond verlief. En juis dít beïnvloed die liefde. Dit kan dit vorm of breek. Geen verliefdheid bestaan immers in ’n vakuum nie. Mense raak verlief tussen ander mense.
Buiten die dinamiek tussen die man en vrou wat verlief raak, is dit ook die wisselwerking tussen hulle en die mense en omstandighede óm hulle wat my boei. Daarom verkies ek om te sê ek skryf verhoudingsverhale.
Verbeelding speel vanselfsprekend ’n rol in enige roman. Maar verbeelding is eintlik glad nie vaag of dromerig van aard nie.
Dis iets taamlik prakties wat sterk verband hou met die werklikheid. Dis die vermoë om jou in iemand anders se plek te stel.
Dit is wesenlik baie naby aan die groot gebod dat jy jou naaste liefhê soos jouself.
Jy moet jou karakter(s) se lewe binnedring en voel soos hulle voel, anders kan jy onmoontlik nie aan hulle reg laat geskied nie.
Ek hou daarvan dat die meeste van my karakters belese mense is wat indringend kan gesels. Ek voel glad nie ek versterk daardeur stereotipering nie.
Die stereotipiese karakter is immers iemand wat nie juis lees nie, wat dus ook nie kan gesels nie en wat in weinig belangstel. Behoed my van sulke karakters.
Ek hou van mense wat uitstaan, wat hul woord kan gestand doen en wat tussen reg en verkeerd kan onderskei.
Dit wil glad nie sê my karakters is sonder foute nie.
Inteendeel, in my nuutste roman, Somersneeu, maak die karakters aardskuddende foute en hul lewe word ten diepste daardeur beïnvloed.
Somersneeu
Helene de Kock se nuutste roman, Somersneeu, het pas verskyn.
Die verloop van ’n klompie matrikulante se lewe word in dié lywige roman geboekstaaf. Dit strek van 1999 tot 2011.
“Ek het self onderwys gegee en kon my indink in jong mense se stryd om ’n greep op die lewe te kry,” sê De Kock.
“En dit bly moeilik – veral hier in Afrika waar daar soms werklik met hierdie kontinent se mooiste kinders gemors word.”
Somersneeu word uitgegee deur Human & Rousseau. Die boek kos R175 en die ISBN is 9780798151153.
Haar gunstelinge
Dis nie maklik vir ’n skrywer wat in 30 jaar reeds meer as 40 boeke die lig laat sien het om haar gunsteling-karakters te kies nie.
Twee karakters staan vir Helene de Kock uit: Rachel Froneman in haar historiese roman Dieper water en Karina Kirstein in haar nuutste, kontemporêre roman, Somersneeu.
“Rachel is ’n diepsinnige, maar baie hardkoppige karakter wat foute maak.
Sy kan haarself nie sover bring om die man in haar lewe te vergewe nie en dus vreet dit jare uit haar lewe weg.
Maar toe sy uiteindelik vergewe, kom sy tot insigte wat sy moontlik voorheen nie sou gehad het nie.
Ek hou van haar omdat sy kan standpunt inneem en werklik diep kan liefhê.
“Karina in Somersneeu is ’n sag-vroulike, byna magiese persoonlikheid wat diep dink, maar min intuïsie het. Sy is impulsief en baie passievol en juis dit laat haar soms verkeerde besluite neem.
Ek hou van haar omdat sy groot lesse uit die lewe leer en niemand anders vir haar eie swakhede en foute blameer nie.”
Bron: Beeld Leefstyl
-
Helene bied verskeie romanskryfkursusse eksklusief vir SA Vryskutskrywer aan. Klik hier om jou sluimerende roman saam met Helene te skryf.
Nog
nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik
hier en kry dadelik jou
gratis geskenk en geheime kodes wanneer jy jou intekening bevestig.



