Welkom by SA Vryskutskrywer - Boekrak

 

Beste dramas ‘is steeds Afrikaans'

2009-09-25 

deur Deborah Steinmair

Die teaterpraktisyn Roy Sargeant, aan die stuur van die Kunstekaap-teater in die Wes-Kaap se Nuwe Skryfwerk-program, gesels met Deborah Steinmair oor die belang van nuwe dramatekste.

In die soeke na nuwe drama-tekste bied die Kunstekaap sedert 2001 sy Nuwe Skryfwerk-program aan.

Professionele lesers keur manuskripte in Xhosa, Afrikaans en Engels en lewer terugvoering aan die skrywers. Belowende dramas word saam met ’n redakteur/regisseur verwerk, waarop ’n openbare voorlesing volg.

Suksesvolle stukke word dan oorweeg vir ’n volle produksie in die Kunstekaap se Lenteseisoen.

Die ontwerper van hierdie lewe- gewende projek is Roy Sargeant.

Dié teaterpraktisyn met die ¬militaristiese naam en sagte oë het in Claremont grootgeword en is al meer as 40 jaar op en om die verhoog doenig.

Sy ma het hom van kleins af spraak en drama laat neem en aan Rondebosch Boys High het hy in Gillbert & Sullivan-stukke gespeel.

Hy het sy kreatiewe talent eers in die radiowese uitgeleef en was later hoof van die dramadepartement aan Rhodes.

Hy was medestigter van die Na¬sionale Kunstefees in Grahamstad, bestuurder van Engelse TV-drama by die SAUK en vervaardiger van onder meer die bekroonde fliek The Road to Mecca.

Hy was ook artistieke raadgewer van die Baxter-teatersentrum. Daar het hy die Skool vir Nuwe Skryfwerk en ook ’n gevorderde dramaskryf-slypskool saam met Londen se Soho-teatermaatskappy aangebied.

Sedertdien toor hy by die Kunstekaap met nuwe tekste.

In November is Gideon van Eeden (van Steriel-faam) se nuwe stuk, The Myth of Andrew and Jo, die vertoonvenster-stuk in die Kunstekaap se Lenteseisoen. Sargeant beskryf dit as ’n snaakse stuk met ’n vars invalshoek. “Dit gaan eerder oor ouerskap as oor gay-wees.”

Hy het die afgelope vier jaar dramas op die Dublinse gay-teaterfees gehad en hoop Myth gaan ook soontoe.

Sargeant is een van die min kreatiewe geeste wat ook sy kuns aan ander kan artikuleer. Hy glo mense kan geleer word om dramas te skryf: “Sekere formules kan geïsoleer word uit die werk van meesters soos Athol Fugard en Tennessee Williams.

Jy kan dramaturge tot op ’n punt oplei, dan is daardie goddelike sprank inspirasie nodig wat van iemand ’n groot dramaturg maak.”

Hy het glo ’n oefening waarmee hy kan bepaal of iemand daardie sprankie genialiteit besit, maar weier om sy geheim te deel: “Dit maak mense te depressief.”

Wat is die elemente van ’n geslaagde drama?

“Spanning. Die ontplooiing van die storielyn, daardie tegniek wat die gehoor laat vra: Wat gaan volgende gebeur? Dialoog is ook baie belangrik: Aspirant-dramaturge moet met ’n notaboek in die kroeg en oral rondhang, snarse dialoog afluister en neerskryf.

“Humor is ook noodsaaklik. PG du Plessis het eenkeer vir my gesê: ‘Roy, jy is nie ’n dramaturg as jy nog nie ’n komedie geskryf het nie’.”

Sargeant praat met groot lof van Afrikaanse dramaturge en erken daar het in ’n stadium nie veel aangegaan aan die plaaslike Engelse ¬toneelfront nie, terwyl daar mense soos Du Plessis en Barto Smit was.

“Die meeste van die dramas en die beste wat ons Nuwe Skryfwerk-program inoes, is steeds Afrikaans.

“Ek is nie skaam om dit te erken nie.”

Tydens die huidige (en vyfde) Lenteseisoen vroeg volgende maand debuteer Schalk Schoombie (van Samoerai-faam) se Outodidak in die Kunstekaap-arena. Van Eeden is die regisseur.

Sargeant glo dramaturge moet die waarheid soek en hul passie volg en ’n kreatiewe lewe sal oopvou. Hy haal Gertrude Stein aan wat gesê het al wat ’n skrywer nodig het, is om eindeloos geprys te word. Nou ja, almal is nie gelukkig genoeg om ’n toegewyde bondgenoot soos Alice B. Toklas te hê nie.

Hy vertel van sy ou vriendin Mary Renault, die geskiedkundige roman-skrywer, wie se lewensmaat in die middel van ’n gesprek sou sê: “Goeiste, ek moet vir Mary gaan kos gee, anders werk sy regdeur en kap om van die honger”.

“’n Mens moet tyd koop sodat jy heeltyds kan skryf,” sê Sargeant, die geïnspireerde vroedvrou wat gestalte gee aan ander se penvrug.

Besoek www.artscape.co.za en kliek regs op “New Writing Programme” vir inligting oor hoe om ’n verhoogteks voor te lê.                                                                             

                          Sluit Venster