Welkom by SA Vryskutskrywer - Boekrak

 

Platsakwenke - 600 wenke om jou beursie te rek - Carla van der Spuy

01-02-2010

Volledige RSG-onderhoud

Hoe het die gedagte aan die boek Platsakwenke ontstaan en hoe het dit gebeur?

Ek is ‘n vryskutjoernalis en werk vir verskeie publikasies waarvan Vrouekeur een is. Hulle het ‘n baie goeie verhouding met LAPA-uitgewers en andersom en ek het ‘n sterk vermoede dat die redakteur Tanja Malherbe vir my die pad oopgemaak het . Hierdie was ‘n voorafgekeurde opdrag-werk; dus besef ek dat ek baie bevoorreg is. Dis wonderlik om aan iets te werk wat jy weet gaan gepubliseer word. Karen Adendorff van LAPA-uitgewers het my uit die bloute gebel en gevra of ek die boek wil skryf. Aangesien ‘n vryskutjoernalis baie afhanklik van korttermyn inkomste is waaruit die rekeninge aan die einde van die maand betaal moet word, het ek my oor ‘n mik geskrik en eers min of meer nee gesê.

Jy beskik eenvoudig nie oor die weelde om ‘n paar maande af te neem en net te skryf nie. Dis net vir ryk vroue of suksesvolle skrywers wat voorheen gepubliseerde werk het wat goed verkoop en dan moet jy natuurlik ook vir jou tantieme wag. .Toe bel ek vir Zerelda Esterhuizen, die artikelredakteur van Vrouekeur aangesien ek die meeste werk vir hulle doen en vra haar wat sy daarvan dink. Sy was baie opgewonde het het gesê, “Natuurlik moet jy dit doen”. Ook omdat elke joernalis darem graag hul naam by ‘n boek wil sien. Sy het selfs aangebied om die spertye vir my stories aan te skuif. Die skrif was dus vir my aan die muur. Ek het toe ‘n afspraak met Karen Adendorff gemaak en vir haar gesê dis reg. Ek is ook bly dat die bekende verbruikersaktivis Ina Wilken ingestem het om die voorwoord te skryf.

Hoe verskil hierdie boek van ander besparingsboeke?

Die boek bevat 11 hoofstukke en gaan oor veel meer as net huishoudelike en kosbesparingswenke. Dit gaan ook oor hoe om te oorleef met jou kleinsake onderneming, hoe om elektrisiteit te bespaar, hoe om mooi te lyk teen ‘n appel en ‘n ei en ander aspekte van ‘n mens se lewe soos platsak vakansies,, onthale en troues en jy kan ook goedkoop gesond en fiks bly.

Kleinsakeondernemings en entrepreneurs het ook aan my vertel hoe hulle oorleef. Ek het op Hartbeespoort gesien hoe mans voor hul eie winkels vee. Die eienaar van ‘n blommewinkel se omset het weens die ekonomie gedaal en hy het toe sy drywer leer blomme rangskik. Ek dink dit is wonderlik. Die drywer leer ‘n ekstra vaardigheid , die eienaar hoef hom nie af te dank nie en hy kan steeds vir sy gesin brood op die tafel sit.

Ina Wilken, verbruikersaktivis meen ons koop te maklik. En ek glo Suid-Afrikaners eet hopeloos te veel.

Die oorheersende boodskap is dat al wat benodig word is ‘n bietjie kreatiwiteit, ‘n paar kamoefleerkunsies, ‘n gesonde humorsin en ‘n minder materialisties instellings

Jy moes die boek in ‘n baie kort tydperk skryf. Hoe het jy dit reggekry?

Ja, nadat ek ingestem het, het ek vir Karen gevra, nou maar wat is die spertyd? Sy het so half skuldig gelyk en toe gesê; “Dit is juis die ding. Die manuskrip moet 30 November gereed wees maar dis net 94 bladsye.

Ons het in September koffie gedrink, as ek reg onthou. Op die ou einde was dit 168 bladsye lank maar dit is darem ‘n kleinerige boekie met heelwat spasies tussen die wenke.

As jy egter om den brode skryf soos wat ‘n vryskutjoernalis doen, sê jy nie sommer nee vir werk nie want anders vra hulle jou dalk nie No work no pay. Dis so eenvoudig soos dit.. Nadat ek ingestem het, moes ek vir my ‘n streng roetine uitwerk. Van Maandae tot Vrydae het ek my gewone vryskutwerk gedoen en naweke het ek 12 uur per dag aan die boek gewerk. Gelukkig beskik vryskutte oor dissipline. Anders sal jy nie in hierdie bedryf oorleef nie. Die super vitamiene B inspuitings en gereeld swem , het ook gehelp.

Maar eintlik is dit nie vir ‘n joernalis so ‘n big deal om ‘n boek te skryf nie. Skryf is wat ons elke dag doen. In my geval al 36 jaar lank. ‘n Uitgewer het aan my gesê meer joernaliste behoort boeke te skryf.

Hoekom het jy so min tyd gekry om die boek te skryf? As ek dit reg het, was dit sewe weke?

Want die tyd is nou reg daarvoor. Almal is maar platsak. Ons beleef ‘n resessie en alhoewel die ekonome sê die gety het gedraai, voel die gewone man dit nog glad nie aan sy sak nie. En selfs al gaan dit voorspoediger, moet ‘n mens nog probeer om verstandig te leef.

Hoe het jy te werk gegaan om die navorsing te doen? Dit was nogal interessant en ook nie so moeilik nie. Een voordeel van so lank skryf is dat jy al oor byna enige onderwerp onder die son geskryf het. Ek het al geskryf oor goedkoop vakansies en goedkoop troues (ons het 13 jaar lank ‘n trouplek gehad) en oor hoe kinders en studente op kreatiewe wyse sakgeld kan verdien.

Ek het ook al geskryf oor hoe ‘n mens elektrisiteit kan bespaar,

‘n Mens bou ‘n databasis en talle kontakte oor die jare op. Vir die hoofstuk oor geldwenke het ek ekonome soos Dawie Roodt en die verbruikersaktivis Ina Wilken genader.

Dan lees ‘n mens ook maar op die internet op en gesels met mense. Daar is talle bronne. Ook maar lewenservaring wat een van die voordele is van ouer word. Dit moet net bymekaar gesit word.

LAPA self het ook vir my verskeie boeke uit die jare toet gegee wat oor besparingswenke gaan maar dit was hoofsaaklik tov van huishoudelike en skoonmaakwenke. En party van hierdie wenke kom uit die vyftigerjare en die era van superhuisvrou.

Ek glo nie daardie vroue het iets anders gedoen as om hul huise te laat blink nie. Ek kon van daardie wenke ook in die boek inwerk want baie is tydloos. Party was egter so potsierlik en outyds dat mense hulle sou doodgelag het, as jy dit moet publiseer. Hierdie superhuisvroue het ‘n obsessie met byv sykouse gehad wat in elke gedaante in elke vertrek opgeduik het en oral ‘n soort reïnkarnasie beleef het.. Hulle het stukkies oorskietseep in die kombuis in die kouse laat pryk en selfs aanbeveel dat vroue vir hulle stortkappies met ou kouse hekel. Wie het vandag tyd daarvoor?

LAPA het my baie vryheid gegee om die boek te skryf. Karen het gesê die een hoofstuk sal uit die volgende vloei en ek kan my eie insiatief gebruik en voorstelle maak.

Een van jou hoofstukke gaan oor sakpastroues. Jy en jou man het ‘n trouplek naby Hartbeespoort bedryf, dus het jy hierdie hoofstuk uit eie ervaring geskryf. Watter wenke het jy vir goedkoop troues?

Ja, ons het die plek 2 jaar gelede verkoop maar ek kan ‘n boek net oor troues skryf. Jy hoef nie jou kar in te ruil of ‘n tweede verband op jou huis uit te neem om te trou nie. Met meer verbeelding as geld kan jy wel gekerk kom. Jy hoef nie ‘n duur troukar te huur nie. Een bruid het by ons in ‘n vreeslike wye rok agter op ‘n bakkie aangekom. Almal het gedink dis vreeslik oorspronklik en sy het elke plaaslike koerant gehaal.

Jy hoef ook nie duur troukaartjies uit te stuur nie. Stuur e-posse uit en beskuldig eenvoudig die poskantoor dat jou kaartjies weggeraak het weens swak dien. Elke Suid-Afrikar sal verstaan. So bespaar jy baie geld aan kaartjies en psogeld.

Daar is ook paartjies wat wegloop en skelm trou en almal agterna inlig maar dan moet jy vooraf besluit of jou familie en veral jou skoonfamilie jou gaan vergewe.

Party paartjies wat verplig voel om 300 mense te nooi, gaan trou ver van die huis af en hoop so om helfte van die gaste uit te skakel en dus onkoste ook. Maar pasop, dit kan backfire. Ek het van iemand gehoor wat in Kanada gaan trou het om kostes te bespaar en toe daag die hele familie en al die vriende daar op en hulle moet vir alles in oorsese valuta betaal.

Oorweeg ‘n oggendtroue want die gaste drink minder en ‘n ontbyt is goedkoper as ‘n aandete en mense drink minder

‘n Oop kroeg is ‘n seldsame verskynsel en ‘n betaalkroeg is deesdae heeltemal aanvaarbaar. Die bruidspaar betaal gewoonlik vir die vonkelwyn en dalk een bottel wyn per tafel maar vir die res moet die gaste self betaal. As daar ‘n oop kroeg is, is baie gaste gewetenloos en sluk die hele tyd dubbele whiskies af maar as hulle self moet opdok is dit ‘n nederige bier of ‘n glas water.

Jy hoef ook nie ‘n plaas se geld aan blomme te bestee nie. Maar wees darem verstandig. Een paartjie het ‘n paar blomme bo in visbakke op die tafels geprop om geld op blomme te bespaar en toe is ‘n hele paar goudvissterfgevalle by die onthaal aangemeld aangesien die blomme die suurstof gebruik het.

Moet ook nie eers eers el cheapo ‘n bring en braai oorweeg nie. Mense reis ver vir troues, betaal ten duurste vir oornaggeriewe en moet dan geskenke ook saambring. Om dan hul eie kos te bring is te dik vir ‘n daalder.

Confetti word nie meer gebruik nie en baie bruide koop roosblare maar jy kan rys gebruik. Rou nie gaar nie. Netnou dink die luisteraars ons is so suinig dat ons die oorskietrys van die onthaal gebruik.

Watter raad het jy vir mense wat goedkoop vakansie wil hou? Die belangrikste wenk is hou in jou eie land vakansie. Jy kan drie wonderlike vakansies in Suid-Afrika kry vir die prys van een vakansie van hongersnood in Europa.

Dis ook dikwels goedkoper om te vlieg as om te ry. Daar is baie laekoste lugrederye wat kort-kort uitverkopings het. Vra dat hulle vir jou ‘n e-pos stuur elke keer as hulle ‘n spesiale aanbieding het. Dit sal wel beteken dat jy aanpasbaar sal moet wees tov die tye wat jy vlieg asook die datums maar dit kan jou duisende rande bespaar.

Kuier gerus by familie maar neem kos en wyn saam. Die wyn sal hulle in ‘n goeie bui sit. In vandag se ekonomie is dit belangrik om ‘n bydrae tot die kruideniersware te maak eerder as om geskenke saam te bring maar jy kan gerus ook gekenke saambring. Moet ook nooit te lank by familielede kuier nie. Hulle moet nog lus voel vir jou geselskap as jy gaan. Wees ‘n goeie gas.

Blykbaar het jyself van die skoonheidswenke uitgetoets?

Ja, ek dit heel eerste uit ydelheid uitgetoets sommige met rampspoedige gevolge. Die gesigmasker van suurdeegkoekies werk soos ‘n bom en kom uit jou kombuis uit. Ek het my doodgeskaam as student toe my Nederlandse ma so gespog het met ‘n masker wat haar ‘n hele sent gekos het. Sy het swaargekry gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Nederland. Jy weet hoe is jongmense. Dit was vir my amper ‘n familieskandaal.

En hier gaan pas ek dit self toe na meer as 30 jaar. Daar is ook ‘n heuningmasker maar my raad aan lesers is om die presiese voorskrifte te volg. Jy moet die heuning in ‘n dubbelboomkastrol kook vir 5 min maar ek gooi dit toe sommer in ‘n pan vir 10 minute. Ek is nie juis ‘n voorslag in die kombuis nie.

Toe word dit ‘n taai tameletjie en ek kry net ‘n stukkie op my neus. Ek besef toe dit gaan nie werk nie; toe besluit ek, ag wat, ek is nou die Platsakkoningin en dit ruik so lekker. Toe eet ek dit maar en breek ‘n kroon omdat dit so taai was.

Dit kos toe ‘n trippie tandarts toe en my medies dek nie tandheelkunde nie. So much vir besparing!

Is jy van nature spaarsamig?

Eintlik glad nie. My broer se seun Gideon is ‘n finansiele adviseur en preek gereeld vir my oor my oudag. Dalk is hy bang ek kom plak by hom.

Ek haal maklik die kredietkaart uit en glo ‘n mens leef net eenkeer , maar ek sal seker nou ‘n voorbeeld moet begin stel. Hierdie was ‘n opdragwerk en dis ‘n joernalis se plig om alles te ondersoek. Die skryf van die boek het my oë laat oopgaan. Ek preek vir myself. My vriende en kinders dink egter ek is nogal vrygewig. Mind you my seun wat ‘n student is sal altyd dink daar is ruimte vir verbetering wat sy sakgeld betref. Studente glo hoeka dis saliger om te ontvang as om te gee...

Waarop sal jy bespaar?

Ek sal nie huiwer om vir my gesin oorskietkos op te dis nie.Daar is soms ‘n koor van protes en sedert ek Platsakwenke geskryf het, word ek nog meer met agterdog bejeën as wat voorheen die geval is. My seun wou weet of al sy kos voortaan bejaard en verby herkenning hersirkuleer gaan word. Hy moet maar spot want die wiel draai en eendag moet hy sy kinders deur universiteit help.

Ek dink ook nie dis nodig om kaste vol klere te besit nie. As jy by die huis en buite sig van die publiek is en nie met kliënte werk nie, hoef jy nie te lyk of jy na die July toe gaan nie maar ‘n mens moet darem ‘n paar ordentlike uitrustings hê vir wanneer jy uitgaan. ‘n Mens kan in elk geval net een hemp of rok op ‘n slag dra.

Waarop sal jy nie bespaar nie? Daar is ‘n paar goed wat ononderhandelbaar in my lewe is. Een is my bydrae tot my kinders se studies. Ek moet my aandele hoog hou want ek word mos afgepers met die kamertjie in die agterplaas waar ek eendag mag woon as ek oud en seniel is. Hierdie kamertjie het weens my opofferinge nou al in my gedagtes na ‘n kasteel met torings en hysbakke en ‘n butler uitgebrei maar ek is ook al afgeskaal na ‘n tent of Zozo-hut as ek nie vrygewig genoeg was nie.

Dus is hul studies vir my ‘n langtermynbelegging. Dis eintlik ‘n groot gespottery in my huis.

Dan sal ek nooit op my huishulp Paulina bespaar nie. Ek sal eerder 3 keer per dag pap eet as om haar te laat gaan. Sy maak my hande los en as sy die dag nie tuis is nie, daal my produktiwiteitsvlakke. Een van die wenke wat ek van ‘n skuldberader ontvang het vir die hoofstuk oor geldsake is dat mense moet probeer om nie hul huishulpe af te dank nie want dan is daar net nog iemand anders sonder werk. Laat haar eerder net minder dae inkom. Paulina is ook een van die redes waarom ek nooit sal emigreer nie. ‘n Vriendin van my was so te sê op pad Australië toe, toe haar Maria ‘n maand lank gaan vakansie hou het en sy tot ander insigte gekom het. Ek dink nie Suid-Afrikaanse vroue hoef skuldig te voel oor huishulpe nie tensy hulle met ‘n Nederlander of Skandinawiër getroud is wat met ‘n voorskoot aan gebore is. Deur ‘n huishulp aan te stel skep jy werk terwyl jy self meer produktief kan wees – veral as jy vir jouself werk wat deesdae die geval met die meeste Suid-Afrikaners is.

Jy is al 35 jaar lank ‘n joernalis. Watter soort stories verkies jy? Oor watter eienskappe behoort ‘n joernalis te beskik en watter raad sal jy vir jong joernaliste gee?

Ek skryf enige storie van aktueel tot inspirasie tot verhoudings tot bylaes. Party stories is baie opwindend soos die storie wat ek onlangs geskryf het oor langtermyn gevangenes in die Losperfontein gevangenis naby Brits wat ‘n teenmisdaadveldtog vanuit maksimum begin het. Daar is ouens wat 90 jaar gekry het. Na vele administratiewe rompslomp en maande se onderhandeling was ek in die gevangenis en het met die groep in die gevangenis se kapel gepraat – onder die wakende oog van die-beamptes van korrektiewe dienste. ‘n Mens sidder om te dink wat hulle aangevang het terwyl jy ‘n paar sentimeters van hulle af sit. Maar vir ‘n oomblik sien jy die mens agter die misdadiger raak soos die bekende kriminoloog wyle Dr Irma Labuschagne en ervaar jy die hoop op rehabilitasie. Hulle het ‘n arm skooltjie aangeneem en wil ‘n boodskap teen misdaad uitdra. Almal vir wie ek gevra het hoekom hulle daar sit het my meegdeel moord.

Almal het ook agterna gevra of ek bang was. Ek was glad nie bang nie. Ek moes dan skryf hoe misdaad nie vir hulle werk nie. Hoekom sou hulle my iets aandoen? Om die waarheid te sê, is ek baie banger om saans kafee toe te ry om ‘n brood te koop.

Aan die ander kant het ek ook al ‘n hele bylae oor ‘n hardewarewinkel geskryf wat 70 jaar oud was en glad nie opwindend is nie maar ‘n mens trek nie jou neus vir enige werk op nie. Ek skryf om den brode. Dis my werk en ek doen wat ek moet doen.

Watter raad sal jy vir ‘n jong joernalis gee – veral een wat vryskutwerk wil doen: Daar is baie jongmense wat wil vryskut.

My raad sal wees; wees veelsydig. Gebruik jou verbeelding. Hou jou ore oop. Moenie jou neus vir enige werk optrek nie. Moenie jouself uit die mark prys nie . Moet nooit nee se nie want dan vra hulle jou dalk nie weer nie.

En die stories is oral. In die tou by die poskantoor, by die kerk oor ‘n koppie koffie. Jou kinders dra vir jou stories aan en daar is ‘n sterk ondersteuningstelsel onder vryskutjoernaliste self, is my ervaring. Ons ruil inligting uit en as ‘n storie vir my te ver is, vra ek ‘n kollega om dit te doen en andersom. Van die lekkerste jobs wat ek al gekry het, was danksy mede-vryskutte.

Skryf is vreeslike harde werk. Jy moet doodseker van jou feite maak. Jy werk met beroepsmense soos sielkundiges en ekonome en jy kan hulle nie verkeerd aanhaal nie. Ek stuur my stories vir mense wat ek aanhaal voor ek dit publiseer. So bou jy ook ‘n vertrouensverhouding.

Maar as jy vir publikasies wil werk en ‘n bestaan daaruit wil maak is die belangrikste dat jy betroubaar eerder as briljant is. Die mense werk met kwaai spertye. Dis belangrik om ‘n heilige ontsag vir spertye te hê.

                          Sluit Venster