


Welkom by SA Vryskutskrywer - Boekrak
Katvoet - Riana Scheepers - Beste nog is vernuwend en eksperimenteel
2009-11-15
deur Susanne Harper
Katvoet deur Riana Scheepers.
Human & Rousseau (sagteband, 203 bladsye), R124.

Die gevierde skrywer Riana Scheepers se eerste bundel kortverhale in tien jaar is ’n publikasie om van kennis te neem.
Sy het reeds sewe ander kortverhaalbundels op haar kerfstok, het verskeie bloemlesings saamgestel en ook jeugboeke, rubriekbundels en ’n roman gepubliseer en het reeds baie pryse verower.
Sy haal die Engelse romantiese digter William Yeats aan waar hy woorde soos glad, grace, beauty, love false or true, pilgrim soul, loved, sorrows en changing face gebruik.
En hierdie grasie, skoonheid en pelgrimsiel vind meermale weerklank in die bundel wat veral oor katte, liefde en die misterieuse gaan.
In die kort stukkie van een en ’n halwe bladsy wat 26 kortverhale voorafgaan, vereenselwig sy haar met die Strandlopers van ouds wat in ’n grot by die see gewoon het.
Die bundel word afgesluit met ’n soortgelyke stuk waarin sy vertel van haar rare en ongewone voorouers en betreur dit dat ons deesdae so gewoon is.
Sy is jammer dat sy en haar familie – en die leser – deesdae so gewoon leef. Sonder die vreemdheid en misterie het ons as mense “sommer niks geword”. En daaroor skaam sy haar.
Soos die omslag verraai, speel katte ’n belangrike rol in hierdie kortverhaalbundel. Volgens die skrywer self in ’n radio-onderhoud gaan dit hier oor katte, hetsy dit nou ’n luiperd, huiskatte of skuurkatte is.
Talle mooi beskrywings van katte word in die bundel gevind, soos waar ’n kat “met gemmer en vanielje en vuur in haar pels” beskrywe word.
Klein katjies word gesien as “asempies grom en gemmer”. Die geliefde sê dat elke vrou eers ’n arm vol katte moet vashou. ’n Pragtige stuk is die titelverhaal waar die vrou vergelyk word met ’n kat waarvan die sintuie in die nag verskerp.
Maar ’n kat is altyd ’n slim, maar ook ’n slu dier. Volgens Scheepers moet die skrywer ook dikwels slim en slu wees. Volgens haar, in ’n ander onderhoud, bewonder sy die kombinasie van intelligensie en sluheid wat ’n kat het en sien sy dit as ’n verbysterende eienskap wat elke skrywer moet hê.
Hiermee saam gaan die tema van die bonatuurlike, reïnkarnasie en die wonderwerk. Die kortverhale in hierdie volwasse bundel toon die ligte, elegante en sinistere aanslag van ’n kat.
Pragtig is ook die beskrywing van hoe die verteller braambosse skoonmaak, later afkom op oorblyfsels van lank gelede en hoe sy selfs die stem van iemand uit die verlede duidelik hoor. Die liefde vir die Afrika-plaas en -veld is eie aan die skrywer, ’n selferkende panteïs. Grappig weer is die beskrywing van die uitgebreide familie tydens ’n Kersete.
Sulke beskrywings word afgewissel met erotiese verhale soos “Kris” en “Nag”. In ander verhale word die plaaswerkers met deernis beskryf en sommige verhale is dig geweef met meervoudige betekenisse.
Die bundel is ook vernuwend en eksperimenteel. Eienaardig en eksperimenteel is die gebruik van kleinletters aan die begin van ’n verhaal en ’n titel van ’n verhaal wat oorloop in die eerste sin.
Sinne sonder werkwoorde is volop, so ook die opeenstapeling van gegewens waar dit funksioneel aangewend word.
Die magiese, die onmoontlike en surrealistiese elemente kom in verskeie verhale voor, soos wanneer ’n luiperd in die nag vreedsaam na hul bed kom en wanneer die geliefde in die nag in ’n voëlagtige wese verander.
Sulke toweragtige, soms surrealistiese momente, kom dikwels verfrissend teen die slot van ’n verhaal voor.
So is hierdie ’n bundel nie net vir katliefhebbers nie, maar ook vir liefhebbers van die geslypte woord. Ampie Coetzee beskou dit as die skrywer se beste nog – en hierdie resensent stem daarmee saam.
Harper is verbonde aan die department toegepaste tale by die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT).



