


Welkom by SA Vryskutskrywer - Boekrak
Die Tuiskoms - Sophia Kapp - Dís haar genre en basta!
2009-12-12
deur Ilse Salzwedel
Vroue lees romantiese fiksie met hul hart; nie net met hul oë nie.
As jy enigiets minder as 100?% gegee het, gaan hulle dit weet.
So sê Sophia Kapp, bekroonde skrywer van vyf top-verkoper liefdesromans. In twee jaar is 15 000 van dié relatiewe nuweling se boeke verkoop, sy het ’n prys vir haar debuutroman gekry én haar vierde boek is vir dieselfde prys benoem.
Oor haar sukses is sy beskeie. Maar moenie die fout maak om die genre waarin sy ’n huishoudelike naam geword het, af te kraak nie.
Om romantiese fiksie te skryf, is harde werk, maar uiters bevredigend en sy sal nooit iets anders wil skryf nie, vertel Sophia.
Sopia, ’n dosent aan die Noordwes-Universiteit, is wyd belese – sy het juis onlangs weer ’n klomp classics gelees, waaronder Pride and Prejudice. Sy sal sekerlik ’n letterkundige werk kan skryf as sy wou, maar weet uit vorige ervaring dat sy haar eerder in albei voete sal steek met ’n geroeste mes as om donker, wroegende letterkunde te skryf. Soos haar heldinne, so is die skrywer: Reguit; selfstandig (sy is ’n enkelouer); tuis in haar vel.
Sy glo dis deels waaraan haar sukses te danke is. Wat jy sien van Sophia Kapp is wat jy lees in haar boeke. “Ek skat die belangrikste ding, veral in hierdie genre, is dat ’n mens eerlik moet skryf. Reg uit die kern van jou menswees uit.”
Hoekom skryf sy juis romantiese fiksie?
“Omdat dit is wat ek die heel graagste lees om te ontsnap van die werklikheid.
“Ek wil op ’n Vrydagaand by die huis kom, opkrul met ’n boek wat my wegneem van al die onaangenaamheid en my weer laat glo aan mense se inherente goedheid.”
Nie dat sy tyd kry om veel te lees nie – as mens in vier jaar vyf lywige boeke gepubliseer het en byna klaar is met nommer ses, moet jy skrýf!
Toe sy nog gelees het – “ek lees nog; net nie meer ’n boek ’n dag nie” – het sy veral Amerikaanse romantiese fiksie gelees (sy het ook ’n paar jaar in Amerika gewoon). Nora Roberts, LaVerle Spencer, Rosamund Pilcher, Eva Ibbotson en Marian Keyes is almal op haar lysie van gunsteling-skrywers.
Sy het so half per ongeluk gepubliseer.
“Ek het ’n byna-klaar manuskrip in my laai gehad toe ek drie Kersvakansies gelede ’n artikel lees wat deur Lapa Uitgewers geborg is. Dit was al die moets en moenies om die skryf van romantiese fiksie. Toe skryf ek die manuskrip klaar en pos dit vir Cecilia Brits by Lapa.”
’n Paar maande later is Die erflating, die eerste boek in ’n trilogie oor drie susters, gepubliseer. ’n Jaar later is dit bekroon met ’n ATKVeertjie vir liefdesroman van die jaar. Tuiskoms, haar vyfde boek, was vanjaar die naaswenner in die einste ATKVeertjies.
Hoekom dink sy hou lesers so van die romantiese-fiksie-genre waarin ander skrywers, soos Irma Joubert en Chanette Paul, net so goed doen? Hul verkoopsyfers bevestig die neiging dat romantiese fiksie in is: Irma het met drie lywige romans die afgelope drie jaar 19 000 kopieë verkoop, terwyl die veteraan Chanette met net haar laaste drie boeke, almal spanningsromans, omtrent 11 000 kopieë verkoop het. (Moenie die drie skrywers se liefdesromans verwar met wat in sommige kringe steeds bestempel word as hygromans nie – ons praat hier van lywige boeke van by die 500 bladsye.)
Sophia glo moderne vroue het ’n groter behoefte aan goed-voel-stories weens al die druk waaronder hulle funksioneer.
“Ons het steeds dieselfde emosionele behoeftes as ons oumas, maar ons het meer pligte as ons oumas. Moderne vroue moet suksesvolle loopbane hê én goeie ma’s en goeie vroue vir hul mans wees.
“Of, as enkelouers, moet hulle ma én pa wees vir hul kinders.
“Maar die behoefte aan liefde en emosionele geborgenheid is steeds dieselfde as wat ons ma’s en oumas gehad het. Dis deel van die vrouepsige. Ons lewensomstandighede het wel in so ’n mate verander dat daar nie meer skeef opgekyk word as ons nie trou nie, of skei, of wegstap van ’n disfunksionele verhouding nie.
“Maar ’n mens moenie die fout maak om te dink vroue het hul behoefte aan romanse verloor nie.”
Maar idealiseer romantiese fiksie nie die liefde nie? Laat dit nie veral jonger lesers met onrealistiese verwagtinge oor liefdesverhoudings nie?
“Daar is dikwels sulke kritiek teen die genre, maar ek glo nie dit werk so nie.
“Tensy dit natuurlik al boeke is wat ’n jong meisie lees. Jong mense word groot in ’n wêreld van komplekse verhoudings, geskeide ouers en oorgenoeg bewyse dat die lewe nie maneskyn en rose is nie.”
In Sophia se romans word daar ook ernstiger temas bygewerk. Soos gesinsgeweld, ’n sub-tema in Tuiskoms. Hoekom?
“Die hele goed-voel-ding is baie meer ingewikkeld as wat kritici van romantiese fiksie wil erken. Dis nie genoeg om ’n oulike, warm einde te skryf waar die held en heldin in mekaar se oë staar en – abrakadabra! – daar voel jou leser goed nie. Mense voel opgelig as jy vir hulle gewys het hoe donker die wêreld eintlik is en daarna die hoop skep.”
Sophia was 42 toe haar eerste boek verskyn het. Wou sy altyd skryf en hoekom het sy so lank gewag? “Ek dink ook nou darem nie ek het so laat begin skryf nie,” lag sy. “Maar ja, skryf was altyd ’n geheime versugting. Ek dink egter nie ek was vroeër reg om hierdie soort boeke te skryf nie. Skrywers van ernstige letterkunde doen dikwels lank navorsing voordat hulle ’n roman aanpak.
“Skrywers van romantiese fiksie hoef nie so baie na te vors nie, maar hulle moet eers ’n stuk gelewe het voordat hulle regtig suksesvol in hierdie genre kan skryf.
“Jou leser is ’n deurwinterde vrou. Jy moet vir haar ’n deurwinterde storie gee.
“En dit kan jy net doen as jy self betaal het vir lewenservaring.”
- Uit: Rapport


