Welkom by SA Vryskutskrywer - Boekrak

 

Francois Bloemhof - 'n Huis vir skryf en kuier

2010-02-13

Stephanie Nieuwoudt

Een van die eerste dinge wat jou in die huis van die skrywer François Bloemhof opval, is die fliekhoek met lekkerlê-banke sodat hy in groot gemak na rolprente kan kyk.

Fliek is immers een van die groot passies van dié veelsydige skrywer wat nie net bekend is vir sy kinder- en jeugboeke nie, maar ook riller- en liefdesromans skryf. Sowat 40 boeke het reeds uit sy pen verskyn. En fliekgeesdriftiges weet ook dat hy ’n fliekresensent is wat gereeld vir Afrikaanse dagblaaie skryf.

Wanneer hy self fliek kyk, is dit feitlik enigiets: Op sy rak is bykans 2 500 DVD’s in alle genres.

“Ek kyk enigiets wat goed gedoen is. Ek sal maklik ’n riller kyk en dit opvolg met iets wat jou laat glimlag,” sê François. Maar politieke werke is gewis nie baie hoog op sy voorkeurlys nie.

Die huis in Durbanville, Kaapstad, wat François met Johan van Lill deel, is ingerig vir gerief.

“Toe dit sowat agt jaar gelede gebou is, was die mikpunt dat dit lekker leefbaar, informeel en gemaklik moet wees. Daar is nie te veel binnemure nie en die vertrekke vloei inmekaar sodat alle vertrekke ten volle benut kan word.”

Die huis is op ’n groot erf – die voortuin met sy bosse laventel en agapante laat jou bietjie aan ’n Engelse “country garden” dink. En wanneer jy deur die voordeur die koel huis binnestap, vergeet jy onmiddellik van die hitte buite en die verkeer op die N1 op pad hierheen.

Die huis is op twee vlakke gebou. Op die boonste verdieping is onder meer slaapkamers wat uiteraard privaat is en waar gaste nie maklik ingenooi word nie. Die onderste verdieping is die leefruimte waar die sitkamer, fliekhoek, eetkamer, kombuis en François se skryf- en werkkamer maklik toeganklik is.

In die werkkamer is ’n skootrekenaar op ’n lessenaar digby honderde boeke in ’n rak wat een hele muur beslaan. François lees wyd: van rillers soos te sien in die Stephen King- en Peter Straub-titels tot die meer magies-realistiese werke van Gabriel García Márquez. Ander skrywers sluit in Arturo Pérez-Reverte en Harry Mulisch.

Sy lessenaar lyk vir die buitestander effe chaoties. Hy lag. “Te veel netheid en orde is ’n siekte waarteen ’n mens moet stry.”

Die binnemure van die huis is ’n ligte oranje geverf. “Die kleur op die plakkertjie op die blik was ‘orange cream’. Ek glo kleur skep positiewe energie en dat ’n mens krag daaruit put,” sê François.

Sy gunstelingplek is die binnehof. “Ek hou van die ruimte omdat dit so rustig is,” vertel François.

’n Lang houttafel van Indonesië op die stoep bied eetplek vir tien mense en nooi jou om lank te kuier met die geur van basiliekruid, roosmaryn en ander kruie uit die tuin in jou neus. Die grensmure van die binnehof is helder blou geverf. Op snikhete dae skep dit die illusie van koelte. Waterplante en visse in ’n dammetjie help verder om ’n gevoel van rustigheid en koelte te skep.

’n Buitestort in die een hoek van die tuin bied lafenis op ’n warm dag.

Maar dis die skildery teen een van die binnehofmure wat die fokuspunt van die binnehof is. Die sterk rooi van die kunswerk trek jou oog keer op keer terug.

“Die skildery, deur Gert Naudé, is op ’n deur gedoen. Ek het dit gesien ten tyde van ’n besoek aan die klein dorpie Greyton in die Overberg-distrik,” vertel François. “Dit was buite ’n kunsgalery. Daar was niks binne die galery waarvan ek gehou het nie, maar die skildery het my geboei.”

François se oog vir kuns is ook te sien in die gebrandskilderde glas van die huis se voordeur – hy het self die ontwerp geteken. Die talle skilderye deur kunstenaars soos Anton Karstel, Sandra Hanekom, Clare Menck, Henk Serfontein, Riaan Vosloo, Braam Kruger en Adriaan van Zyl is verdere getuies van ’n kunsbelangstelling. Trouens, geen muur is sonder ’n skildery of twee of drie nie.

“Ek hou daarvan om na mooi goed te kyk,” verduidelik François.

Hy sê stilte is nie noodwendig vir hom belangrik wanneer hy skryf nie.

“Ek kan op enige plek konsentreer. Maar privaatheid is wel vir my belangrik. Om op my eie te sit en skryf, bied vir my die vryheid om sommer my hemp te kan uittrek wanneer ek werk.”

Sy dagroetine bestaan uit: “Sukkel-sukkel opstaan, want ek is nie ’n oggendmens nie. Myself wakker skok met rogbrood en koffie, gym toe gaan, ‘werk’ vir ’n uur of wat (aanhalingstekens, want dit voel nie altyd soos werk nie). Daarna stap ek kafee toe, klim weer agter die rekenaar in en mik om teen twee-uur die middag klaar geskryf te wees. Dan kyk ek ’n DVD of lees.”

Aanhangers kan in April uitkyk vir François se jongste spanningsverhaal, Die onbekendes, wat by Lapa verskyn.

Bron: Rapport

                                                                        

Terug na Boekrak