


Welkom by SA Vryskutskrywer - Boekrak
Hennie Aucamp - Liefdesverhale wat Tsjechof herroep
2010-02-13
Charl-Pierre Naudé
Die
tema van Hennie Aucamp se jongste bundel kortverhale is die liefde – aweregse
en/of onwaarskynlike liefde. Elk van die liefdestories het wel ’n ongewone aard
en verbeeld hetero- sowel as homoseksuele verhale of episodes.
Die verhale gee die gevoel van ’n blote snit, van ’n tydperk of lewenswyse, geruk uit ’n breër relaas wat sedertdien in die vergetelheid versink het, maar deur die verhaal weer tot lewe kom. En hier is die tweede bindende tema: Vergete tye oor ’n kleindorpse Afrikaanse bestaan, of ’n trekboergeselskappie, liefde in ’n aftree-oord; die herontdekking van ’n vergete digter op die platteland, “gesteelde” liefde op ’n Keniaanse plaas in die tyd toe Afrikaners nog daar geboer het, of ’n jeugherinnering van die outeur.
Min skrywers kan ’n ganse tyds- gewrig met ’n enkele sinsnede of woord voor die gees roep soos Aucamp. Hy doen dit op ’n manier wat sulke vergange tye aan jonger lesers kan voorstel met geringe moeite vir laasgenoemde. Die prosa spreek vanself: In kostelike, bodemvaste Afrikaans (soveel meer roerend weens die immanente vergaan van die ou wêreld). Dit beeld die paradoks van die verfynde verbeeldingswêreld van ’n ruwe pionierskultuur uit met ’n sekure fokus wat ongerep voordoen. Aucamp is by uitstek die Suid-Afrikaanse prosaïs wat my aan Anton Tsjechof laat dink.
Is dit oorvereenvoudigend om te sê die tradisie van fynbeskouing in Aucamp lê dik in die werk van Petra Müller, Rachelle Greeff en selfs Eben Venter? Wat lewer ’n skrywer soos Aucamp en sy opvolgende tradisie op? Dit behoort tog ’n vraag te wees vir staatsamptenare wat so soek na standhoudende, nuwe mentors.
Die ander opsig waarin Aucamp aan die Russiese skrywer herinner, is in die tersluikse simboliese en metaforiese lading wat onverhoeds in “onskuldige” sinne openbaar word.
Hierdie aspek van sy werk kom onverdund voor in Die huis van die digter en hierin is dit niks minder nie as poësie, en wel van ’n hoë orde.
Die bundel kom in ’n tyd van ongekende estetiese gelykmaking en waardewaan weens growwe markkragte en propaganda oor wat goeie kuns is. (Laasgenoemde is nie nuut nie. Hoe het die goeie Afrikaanse skrywers dit tot nou oorleef? Antwoord: Deur hulle van die begin daarvan te distansieer.)
Die skryfstyl in die bundel – propvol volkse en streekuitdrukkings en spaarsamige jukstaponerings waarmee resonerende tonele en era-taferele tot stand kom – is imponerend.
Die klassieke taalhantering sluit in die gebruik van woorde soos aanteeluie (bl. 9), klinkerhard (bl. 17), knoffelkoepeltjie (bl. 13) en kwispedore en konfore (bl. 46). Hare (bl. 12) “lê sluik’’ (reguit en plat teen die kop gekam) en iemand op bl. 92. is gek na blomme, maar in die taal van Aucamp “verdold op blomme”.
Maar die bundel is nie sonder gebreke nie. Die “snit”-gevoel van verhale doen hier en daar te fragmentaries voor, of die aanbod nie goed genoeg geanker is in sy implikasies nie (soos in “Droë meer” en ’n mindere mate “Kouekoors”). “Die stolp” is vir my die beste verhaal: Geloofbare karakters ondanks die kriptiese aard van die genre en ’n stolling in die tyd wat beduidend genoeg omraam is.
Ek hou van verhale wat as geheel ’n sterk, verrassende subteks het.
Hulle beweeg na aan die oppervlak, ondanks die metaforiese resonansie van afsonderlike passasies.
Hier en daar word karakters onoortuigend geteken. Hiervan is die twee mansminnaars in Kenia in “Kouekoors”die opvallendste. ’n Man ly aan malaria, tot so ’n mate dat hy uitgetrek moet word vir die bad, maar hy word sonder meer aansienlik seksueel aangewakker?
Ook in die spookstorie van Joey Muller vertaal uit Engels, “Die terugkeer uit die kloof”, is karakters se optrede soms ongemotiveer, hoewel die effe histeriese aard van dié tipe verhaal dit kan verskoon.
En tog is Aucamp goed genoeg met karakters (wanneer hy goed is) dat hy kan wegkom met misantropiese beskrywings van vroue bloot omdat dit so kostelik gedoen word.
Die mooiste is die titelverhaal.
Daarin word ’n fiktiewe digter herontdek – (vermoedelik fiktief, so goed is die oëverblindery!) kompleet met ’n vers wat ’n uitstekende voorbeeld is van Dertigerpoësie. Die effek lê nie soseer in sy liefdestema nie, maar hoe dit die bestaande tyd van die leser by implikasie uitvee en gelykmaak deurdat dit ’n vergete lewe ontruk. Of dit wil sê: Alle tye vergaan, kyk maar, jou tyd sal ook. Eers het ek gedink die afloop is onoortuigend, maar mettertyd besef dit is ’n doelbewuste poging om die verteller as onoortuigend te skets.
Ondanks tekortkominge is dit ’n bundel kortverhale waarin ’n taal homself onthou.
“Ek het binne ’n boekkultuur grootgeword soos stellig baie Stormbergers, vanweë die lang winters wat mense binnenshuis hou.
“Maar ook sonder koue sou ek ’n boekmens geword het. Ek het die mag van die woord vroeg-vroeg ontdek en tot vandag toe voer boeke my na ’n stratosfeer soos selfs musiek en kuns nie kan nie.”
* Charl-Pierre Naudé is ‘n digter.
Bron: Rapport



