


Welkom by SA Vryskutskrywer - Boekrak
Plaasmoord: Hanlie Retief praat met Karin Brynard
2009-12-12

“As ’n sigeunervrou jare
gelede voorspel het ek gaan op Sondag 13 Desember 2009 ’n kinderlose suiplap
wees met borskanker en ’n misdaadboek op my kerfstok, het ek my geld
teruggevra.”
Langasem ryg sy die woorde in. Eerlik en droog soos die Noord-Kaap waar sy
grootgeword het. ’n String woorde oor ’n lewe wat sélf ’n roman sou kon word.
Maar dan sal dit méér moet vertel – ook van ’n vermaarde politieke joernalis,
amateur-fotograaf, hospice-berader, gelukkig getroud met Rien, haar
“diepbejaarde, knoetserige Hollander met ’n fetisj vir swewende Gregoriaanse
gebedsmusiek.”
Karin Brynard sit plat op die vloer in haar werkkamer in Mostertsdrif,
Stellenbosch. Kaalvoet, een knie opgetrek tot onder die ken, donker hare ’n
bietjie deurmekaar, kennis van die aand in haar blou oë.
Afrikaanse letterkunde se Kersfeessensasie.
Op die voorblad van haar
roman Plaasmoord allitereer Deon Meyer: “Broeiend, boeiend, briljant.”
Resensente klap hande. Selde is ’n eerste oplaag so blitsig uitverkoop soos dié
Kalahari-speurverhaal van inspekteur Bert Beeslaar teen ’n onverbiddelike
landskap van moord en grondbesitkwessies. Die uitgewers skarrel nou met ’n
herdruk voor Kersfees – die spoed van verkope het hulle onverhoeds betrap.
Die sigeuner se storie oor Karin Brynard sou eindig met: Hoofstuk 4,
Misdaadboek.
En die slot só: “Die eerste eksemplaar van Plaasmoord is vroegoggend afgelewer.
Ek het die nag by ’n vriend, wat sterwend was aan kanker, gewaak. Toe ek
tuiskom, brand die huis vol kerse en daar’s rose en sjampanje en ek dink:
‘Jirrrlikheid, wat gaat hier aan, as ek my rug draai, entertain die blêrrie ou
Hollander seker die ouetehuis!
“En daar lê my boek!
“Ek en Rien het soos
hiënas al om die tafel gedans. Hope foto’s van onsself geneem, mét die boek, net
mooi niks gewoond nie!”
Sy’t sewe jaar met dié boek gestoei. Seker duisend keer van voor af begin. Elke
liewe Desember dan trek sy die manuskrip nader en dink: Watse snert het ek hier
geskryf? “Dan begin ek wéér. Dit was amper my mantra, Desembers, watse snert het
ek geskryf?…”
Die boek was eers ’n baksteen van duisend bladsye. Sy moes dit met byna die
helfte sny. Sy’t in ’n vriendin se huis buite Kleinmond gaan werk, alleen, weg
van die dorp, vrekbang in die donker nagte.
“Ek het presies daai plaasgevoel gekry waaroor ek skryf. Boonop is ’n oom en ’n
tannie daar naby in hul huis vermoor.”
Dit het haar so laat fokus dat die boek binne ’n maand herskryf is, terug by die
uitgewer: al 512 bladsye.
In Mei, toe die finale redigering moes begin, gee die lewe haar ’n hewige stamp:
Hoofstuk 3: Borskanker.
“Ekself het gedink: Oukei, dis ’n bummer, maar darem nie ’n doodsvonnis nie. En
ás dit ’n doodsvonnis is: I’ve had one hell of a ride. Maar ek was jammer vir
die mense rondom my. Vir Rien.
“Etienne Bloemhof (haar uitgewer) kom toe hier aan met ’n bos blomme en die
manuskrip onder sy arm en sê: Gaan doen jy jou kankerding; ek doen jou
korreksieding.”
Sy kon net in haar bed
bly en gesond word – en dis die naaste wat sy nog soos ’n man gevoel het,
grinnik sy. “Kon nie multi-task nie, skaars op een ding konsentreer, na niks
dieper kyk as Die Hard-flieks nie!”
Hulle kon al die kanker verwyder. Sy was gelukkig.
Kollegas onthou Karin Brynard uit haar joernalis-dae, dikwels met ’n swart hoed
op die kop, bang vir niks en niemand, saam met Chris Hani op die regses se
moordlys, fisiek verwyder uit AWB-vergaderings (sy kon die Groot Karwats se
toesprake verbatim herhaal). En die girl wat polisiemanne en geheime agente en
ministers onder die tafel kon indrink.
’n Lewerkapasiteit so groot soos haar lewenskapasiteit.
Sy onthou die wipwaentjiejare van die 1980’s by Die Vaderland, toe sy
tydens die onluste baie keer “in die townships moes rondhol”.
Veral die keer in Alexandra: “Toe ek weer sien, is ek al joernalis op ’n
sokkerveld met ’n skare wat dreigend naderkom. Comrades met blou
straatkomitee-bande om hul koppe – ek sal nooit die pragtige blou teen hul
donker velle vergeet nie.
“Petrolbomme in die
hande, vra hulle: ‘Wat soek jy hier, wit vrou?’ Ek dink toe blitsig en sê ek’s
van ’n Hollandse koerant en gorrel ’n gruwelike Duitse vertaling daar uit: Das
Vaterland, als in my beste Neiderlandse aksent.
“Ná ’n lang redekawel los hulle my. Agterna het die adrenalien my lank aan die
gang gehou?…”
Oor die sóórt boek wat sy sou skryf, het Karin nie ’n oomblik gewonder nie.
Speur-en-spanning, in die spore van haar groot skrywersheld, Ian Rankin, die
skepper van über-speurder John Rebus.
Dink net: Rankin het Rebus, Brynard het Beeslaar?… sy’s júis dié Krismis aan’t knibbel met ’n Beeslaar-opvolg. Sy skud haar kop verbouereerd: “Néé, hél, jy gee my nou ’n lamte!” Die boek se titel, Plaasmoord, was ’n harde neut.
“Dit verwoord vir baie mense pyn en verskrikking. Ek was bang mense dink ek buit dit uit net om my boek te verkoop. Rien was daarteen; hy’t gesê mens speel nie met ander se wonde nie. Maar die bemarkers was sterk daarvoor.”
Sy’t Plaasmoord begin skryf ná ’n vriend se opmerking: “Jy’s in elk geval ’n k*k huisvrou; hoekom skryf jy nie eerder ’n boek nie?”
“Ek sê ek weet nie hoe nie. Hy sê: ‘Mevrou, gaan sit en skryf. Dis hoe.’ En toe gaan sit ek nou maar en skryf nou maar.” Sy gorrel ’n laggie uit, val haarself in die rede.
“Ek het aanvanklik hengse verwagtinge gehad van huisvrou word. Boeke by die biblioteek uitgeneem oor blommerangskikking en hoe om prentjies te hang. Wou inskryf vir Pick n Pay se kookkursus en het Rien die R300 daarvoor gevra.”
Hy sê toe nonsens, enige vrou kan kook. Nou nog, as hy ’n bord slegte kos kry, sê Karin vir hom: Jy was mos suinig met jou R300.
Die huisvrou-ding het nié gewerk nie. Sy’t ál meer vryskut begin skryf, was later op Insig se redaksie.
“Maar hier teen die einde van die 1990’s het ek?…” sy huiwer, dink hardop, “hoe moet ek dit sê?… dat dit nie sleg klink nie?… nee, daar ís g’n mooi manier nie.”
Hoofstuk 2: Suiplap/Alkoholis.
Haar oë raak blink.
Sy was altyd ’n strawwe drinker, ’n party girl. Toe sy by die koerante beland, was dit nág. Saam met manne soos Koos Doep (du Plessis). “Twaalfuur, as die koerant sak, dan trek ons die flesse se proppe af en begin gooi.”
Vir jare was dit “g’n probleem” nie, totdat sy in 2001 agterkom sy begin skelm drink. Sy’t haarself ’n maand lank by ’n rehabilitasiesentrum ingeboek. Nou drink sy nie ’n druppel nie.
Maar dit was onverdunde hel.
“Om te hoor ek het kanker was vir my minder van ’n skok. Jy groet jou héél beste vriend – drank. Besef: Jy en ’n ou bergie op ’n parkbank, ’n tikkop uit Manenberg, ’n heroïenslaaf – diesélle. Diesélle.”
Kruisbeen sit sy en vertel, ’n vredigheid om haar.
“En toe’s alkoholisme die grootste geskenk van my lewe?…”
Sy, wat altyd bang was mense vind uit sy’s maar net ou Karin Brynard, dik, dom en difficult, met te veel sproete en te min verstand om Afrikaans III deur te kom – “het geleer die grootste uitdaging op die aardbol is om jouself lief te kry”.
Sy was die derde dogter van vier kinders, die een wat eintlik die seun moes wees waarop haar pa gewag het.
“Hy’t nie eens na my kom kyk in die hospitaal nie, het ek kleintyd my ma aan ’n tannie hoor vertel.”
En dis dié selfbeeld waaraan sy bly vasklou het. “Verkeerdelik, maar tog. Ek was twee en ’n half, toe word die kroonprins gebore. Ek het grootgeword met: Boetie kry ’n fiets. En Karin? Maar hy’s die seun?…
Ek het besluit: Ek sal groter ballas groei as enige man onder die son. Dis so stom, maar dis wat ek nou maar gedoen het.
“Ek kon mans onder die tafel inwerk, indrink, in-alles.”
Dis dalk hoekom Beeslaar vóél asof hy deur ’n man geskep is. Vloekwoorde en al (Karin het juis hieroor nog nie kans gesien om die boek vir haar ma te gee nie?…)
Sy lag, kop agtertoe, die pêrel om haar nek fyn teen haar sleutelbeen.
“Goeie verdomp, dit wás nogal ’n snaakse jaar, dié!
“Maar blêrrie sleg, vir my, was my vriend se dood drie weke terug. Ons het ’n rukkie lank saam die kanker gehad, en lekker jokes gemaak oor lunch – hy met sy ou chemo-pompie en ek met my af-tiet!
“En toe trek hy die kort lootjie?…
“Dis mos soos die lewe werk, nè. Hy dop jou skielik om. Soms lyk jou lewe oornag anders, kyk ’n vreemdeling skielik terug uit die spieël.
“Seker maar moet ons die lesse en die liefde in elke nuwe kinkel raak sien. En al twee ewe hard aangryp.
“Dit, dink ek, het 2009 aan my bevestig.”
“Ekself het gedink: Oukei, dis ‘n bummer, maar darem nie ’n doodsvonnis nie. En ás dit ’n doodsvonnis is: I’ve had one hell of a ride. Maar ek was jammer vir die mense rondom my. Vir Rien."
Uit: Rapport




