Annalie Vosloo

Kursussamesteller en -opleier:

  Korporatiewe JoernalistiekKontak Annalie

 

Annalie Vosloo het aan die destydse Afrikaans Hoër Durban-Noord gematrikuleer en die daaropvolgende jaar weer 'n keer gematrikuleer - die keer by Satellite Beach High in Florida, VSA, waar sy vir 'n jaar lank as uitruilstudent gewoon en skool gegaan het.

Dit was in die jaar van vlerksprei dat sy agtergekom het die wêreld is 'n groot plek en hoe meer mense, hoe meer dinge.

Na haar studies in Drama- en Toneelkunde aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat, het sy by die SAUK as Argifaris begin werk waar haar kennis en belangstelling in Suid-Afrikaanse geskiedenis haar goed te staan gekom het. Daarna het sy by Perskor aangesluit en 'n paar jaar as nuusverslaggewer by Die Vaderland gewerk voordat sy die groot stap na vryskutjoernalistiek geneem het.

Dit was in dié tyd dat haar wye belangstellingsveld haar algaande in die rigting van korporatiewe skryfwerk geneem het. Sy het vir nismarkte van landbou tot visvang, van jag en toerisme tot tipografie geskryf.

Annalie is ook al jare lank betrokke by die breë finansiële mark waar sy maatskappye se finansiële state en jaarverslae proeflees, redigeer en vertaal.

"Die lekkerste ding vir my is om absoluut niks van 'n onderwerp af te weet nie en algaande jy aan 'n artikel werk, jy amper 'n passie daarvoor ontwikkel. Ek het al liries geraak oor die verskillende komponente van koeëldoppies en om 'n balansstaat te vertaal is pure lekkerte!" sê sy.

Haar lewensleuse is: "Ek skrik nie vir Niks nie. Niks is maar net Niks tot dit iets is. As jy niks van iets af weet nie, moet jy net iets daaromtrent uitvind en dan weet jy mos nie meer niks nie!"

Sluit Venster