


Welkom by SA Vryskutskrywer - V & A: Wat doen 'n vryskutskrywer?
Wat presies doen ‘n vryskutskrywer?
Vryskutskryfwerk is wat vryskutskrywers vir die grootste gedeelte van hul lewens doen! ‘n Vryskutskrywer is iemand wat ‘n loopbaan as skrywer verkies waar daar geen langtermynverbintenis met ‘n enkele werkgewer is nie. Dit beteken dus dat vryskutskryfwerk nooit vervelig raak nie omdat die skrywer verskillende skryfwerke vir 'n verskeidenheid publikasies en besighede skryf. Vryskutskrywers roem hulle daarop dat daar ink deur hulle are bruis!
In ‘n neutedop kan skrywers só geklassifiseer word: ‘n skrywer is enigiemand wat skryf, hetsy vir ontspanning, om sy kreatiewe talent te beoefen of ‘n uitlaatklep vir sy emosies soek, vir vrywillige werk of teen betaling. Betaalde skrywers wat voltyds of deeltyds vir ‘n werkgewer werk, kan vir ‘n koerant, tydskrif, advertensiemaatskappy of enige ander besigheid wat ‘n voltydse skrywer op die personeel benodig, skryf.
‘n Vryskutskrywer is egter iemand wat soos ‘n klein besigheid of onafhanklike kontrakteur funksioneer, wat volgens sy eie pas werk, sy eie werk soek en niemand behalwe homself hoef te betaal nie.
Wat se tipe werk moet jy doen om as ‘n vryskutskrywer geklassifiseer te word?
Die Engelse woord vir “vryskut”, freelance, het ontstaan toe ridders of huursoldate hulle dienste aan enige heerser wat hulle daarvoor wou betaal, aangebied het, met ander woorde, hulle was free-lance of in Afrikaans, “vry-skuts”.
Op dieselfde wyse is ‘n vryskutskrywer ‘n skrywer wat vir ‘n maatskappy werk of ‘n onafhanklike skrywer wat op ‘n kontrakbasis aan ‘n projek werk. Dié “kontraktuele” werk hoef nie eens volgens ‘n formele kontrak te wees nie, hoewel dit eintlik in die skrywer se eie beste belang is om ‘n kontrak op te stel. Wat die twee werke van ‘n vryskutskrywer – vir ‘n maatskappy of as onafhanklike skrywer – wel in gemeen het, is dat albei deel is van ‘n skryfprojek wat ‘n vasgestelde tydsbeperking (sperdatum) en ‘n duidelike doelwit bevat. Nadat die projek afgehandel is, kan die vryskut na die volgende projek beweeg.
Daar is verskillende vorme van vryskutskryfwerk, soos sakeskryfwerk, bemarkingsskryfwerk of skryfwerk vir die web. Aan die ander kant fokus sommige vryskutskrywers net daarop om vir tydskrifte of koerante te skryf, terwyl ander hul altruïstiese kant kan uitleef deur gratis skryfwerk aan nie-winsgewende organisasies te lewer.
Wanneer jy in die wêreld van vryskutskryf induik, sal jy ‘n goeie idee van jou sterk punte en swakhede kry en in staat wees om die projekte te teiken wat die beste by jou persoonlikheid en vermoëns pas. As jy uitgewerk het waarmee jy regtig goed is, en daardie talent in die regte rigting begin kanaliseer, sal jy ‘n ware “vryskut” wees.
Indien daar enigiets is waaroor jy nog onduidelikheid het, stuur asseblief vir ons jou navraag deur middel van onderstaande aanlynvorm.

